Coenie Botha, CBI Exhange Namibia ‘se besigheid onwettig’

Coenie Botha van die kripto-beleggingsmaatskappy CBI Exhange Namibia is gearresteer en het in die hof verskyn. Die Bank van Namibië het na ‘n ondersoek bevind Botha en die firma het bankbesigheid bedryf deur deposito’s van die publiek te ontvang, sonder om daarvoor gelisensieer te wees. Dit is ‘n oortreding van artikel 6 van die Wet op Bankinstellings van 1998, en die saak is dus aan die Namibiese Polisie oorhandig. Die bank sê die suksesvolle vervolging van sake van hierdie aard vereis die bystand van die publiek. Mense wat deposito’s by Botha of CBI gemaak het word versoek om die polisie te kontak om te help met die ondersoek.