Dagga-wette ‘lê ekonomiese groei aan bande’

Regeringsadvokate voer aan dat die saak wat deur dagga-aktiviste Jaftha Brian en Borro Ndungula na die Windhoekse hooggeregshof gebring is, nie ‘ryp’ is vir geregtelike beregting nie. Brian en Ndungula wil hê die hof moet die wet wat die besit en gebruik van dagga deur volwassenes verbied, in stryd met die Grondwet verklaar. Hulle wil ook hê die hof moet onder andere die woord cannabis, of dagga, van die lys van middels in Bylae 8 van die Wet op Medisyne en Verwante Stowwe verwyder. Maar in hofstukke voer regeringsadvokate aan dat die Regshervorming en Ontwikkelingskommissie deur die lynministerie opdrag gegee is om die wette wat die besit en gebruik van dagga reguleer, te hersien. Kosmos 94.1 nuus het met Angela Prusa van die Cannabis- en Hennepvereniging van Namibië gepraat, wat sê die bestaande wette lê onder meer ekonomiese geleenthede aan bande.