Frankryk se boudjie-aptyt te groot

Frankryk se honger na paddabene en boudjies is “vernietigend vir die natuur” en stel amfibieë in Asië en Suidoos-Europa in gevaar, waarsku ’n groep wetenskaplikes en veeartse.

Meer as 500 kundiges van navorsings-, veeartsenykundige en bewaringsgroepe het ‘n beroep op Emmanuel Macron, die Franse president, gedoen om “die oorbenutting van paddas te beëindig” en aan die mees verhandelde spesies beter beskerming te bied.

Die Europese Unie (EU) voer elke jaar die ekwivalent van 80-200 miljoen paddas in, waarvan die meerderheid in Frankryk verorber word. Die meeste kom van bevolkings in Indonesië, Turkye en Albanië, asook van plase in Viëtnam.

Meer paddaboude word in Frankryk geëet – dikwels in beslag gebraai of met knoffel en pietersielie gebraai – as in enige ander land in die EU.

Die wetenskaplikes voer aan dat Frankryk moet druk uitoefen om wêreldwye beskerming vir kwesbare paddaspesies te verseker onder die Konvensie oor Internasionale Handel in Bedreigde Spesies van Fauna en Flora (Cites), wat werk om die onwettige handel in plante en diere te stop.

Studies dui daarop dat sommige paddaspesies reeds ly. Die krapvretende padda (Fejervarya cancrivora) en rysveldpadda (Fejervarya limnocharis) – se getalle het reeds erg afgeneem weens intense kommersiële oeste.

Paddas speel ‘n belangrike rol in ekosisteme en op plase. Paddavissies kan watergehalte in damme verbeter en paddas kan boere help om minder plaagdoders te gebruik. Hulle kan ook help om aansteeklike siektes op ‘n afstand te hou deur muskiete te eet.