NamPol reageer op video van mishandeling van kind

NamPol het ‘n pleidooi aan die publiek gerig om nie video’s te deel wat voorvalle uitbeeld wat buite Namibië plaasgevind het nie, want dit skep vrees en paniek in die gemeenskap. Mense moet eerder sulke oortredings by die polisie aanmeld. Die mag sê in ‘n verklaring ‘n ontstellende video waarin die aanranding en mishandeling van ‘n weerlose minderjarige deur ‘n volwasse vrou by ‘n ongeïdentifiseerde dagsorgsentrum verskyn, het op WhatsApp die rondte gedoen. Die videomateriaal dateer egter tot drie jaar gelede en die voorval het nie in Namibië plaasgevind het nie. NamPol sê hulle mandaat is onder meer om oortredings of beweerde oortredings te ondersoek. Lede van die publiek word verseker die mag bly verbind daartoe om sy pligte doeltreffend uit te voer. Eweneens is die Afdeling Geslagsgebaseerde Geweld gestig om onder meer kwessies aan te spreek wat minderjariges en hul beskerming behels.