Noa is tjoepstil oor Yslandse besoekers

Yslandse ondersoekers en aanklaers het Namibië se Teenkorrupsie-kommissie in Januarie besoek om die rol wat hul burgers in die Fishrot-korrupsieskandaal van 300 miljoen Namibiese dollar gespeel het, te ondersoek. Die Yslandse span help die Namibiese regering om die potensiële betrokkenheid van die Yslandse vismaatskappy Samherji en geïmpliseerde individue te bepaal. Die kommissie se direkteur-generaal, Paulus Noa, het toe gesê hulle doel is om te verseker dat individue wat in die Fishrot-sage geïmpliseer word, vervolg word ongeag hul nasionaliteit, onder die wetlike raamwerke van beide nasies. Kosmos 94.1 Nuus het by Noa gaan kers opsteek oor die besoek en hoe ver hulle gevorder het, maar hy sê hy kan nie daardie inligting met die publiek deel nie.