Capricorn Eagles klop SA by Afrika-spele

Namibië se nasionale vroue-krieketspan, die Capricorn Eagles, het hulle eerste wedstryd by die Afrika-spele teen Suid-Afrika gewen. Die Eagles het met een lopie gewen volgens die Duckworth-Lewis- Stern metode. Die Eagles het eerste gekolf en 89 vir 7 aangeteken, met Wilka Mwatile wat die hoogste lopie-telling van 37 in 41 balle gekry het. Suid-Afrika was op 29 vir vier toe reën die spel ontwrig het. Namibië se Kayleen Green het drie paaltjies in twee boulbeurte laat kantel vir net ses lopies. Die Eagles kom môre teen Nigerië te staan.