EFF-boewery gaan nie mosie teen burgemeester keer – ActionSA

ActionSA in Ekurhuleni aan die Gautengse Oos-Rand sê die raadsvergadering wat die EFF verlede week ontwrig het, moet dringend hervat word. Die vergadering is belê om onder meer debat te voer oor ʼn mosie van wantroue wat ActionSA teen die burgemeester, Sivuyile Ngodwana, wou indien. Die vergadering het egter in chaos ontaard toe EFF-raadslede uittartend opgetree en waterbottels rondgegooi het. Vuisgevegte het ook uitgebreek tussen hoofsaaklik ANC- en EFF-lede. Andrew Harris van ActionSA sê Ngodwana sal beslis uit sy amp verwyder word.