Uraan-uitvoere die hoogste in 10 jaar
Uraan-uitvoere het in Januarie die hoogste maandelikse uitvoerwaarde in die afgelope tien jaar behaal. Die uitvoere het 3,8 miljard Namibiese dollar beloop, ’n aansienlike toename vanaf die 1,5 miljard dollar wat in Januarie verlede jaar aangeteken is. Namibië se handelstekort het vernou tot 1,8 miljard dollar vanaf 3 miljard in Januarie van die vorige jaar. Dit is egter aansienlik hoër as die 299 miljoen dollar handelstekort in Desember. Volgens die Nasionale Statistiek-agentskap, NSA, het uitvoervolumes tot 302 425 ton gestyg, vanaf die 223 660 ton wat in Januarie 2023 aangeteken is, met die meerderheid goedere wat per see vervoer is. Aan die invoerkant het volumes in Januarie altesaam 476 132 ton beloop, met see-vervoer weer die primêre modus. Die woordvoerder van die Nasionale Statistiek-agentskap, Mirjam Shihepo, sê dat China na vore getree het as Namibië se grootste uitvoermark.