Ouderdomstoelaag hoër, maar pensionarisse trek steeds swaar

Tydens die voorlegging van die begroting het die finansminister, Ipumbu Shiimi, verklaar dat die begroting 824,7 miljoen Namibiese dollar insluit om die werklike waarde van maatskaplike vangnette te handhaaf in die lig van hoë inflasie en die hoë afhanklikheid daarvan. Die ouderdoms- en ongeskiktheidstoelae word dus van 1 400 dollar tot 1 600 dollar per maand verhoog vanaf 1 April. Hy het bygevoeg dat wyle president Hage Geingob se droom van aansienlik hoër ouderdomstoelae, nie in ‘n enkele finansiële jaar bewaarheid kan word nie. Die regering sal voortgaan om daaraan te werk met geleidelike verhogings oor tyd, soos die hulpbronne dit toelaat. Kosmos 94.1 Nuus het gepraat met die sosiale aktivis, Rosa Namises, wat self die ouderdomstoelaag ontvang. Sy sê dit is baie teleurstellend dat die ontslape president se belofte nie nagekom is nie.