Groot kommer oor Ghana se teenstand teen LGBT

Die Verenigde Nasies se hoë kommissaris vir Menseregte, Volker Türk, sê hy is ontsteld omdat Ghana se parlement ʼn omstrede wetsontwerp teen gay mense aanvaar het. Die wetsontwerp oor seksuele regte en gesinswaardes stel tot drie jaar tronkstraf voor vir mense wat skuldig bevind word dat hulle as LGBT identifiseer. Dit stel ook tronkstraf van tot vyf jaar voor vir die vorming of befondsing van LGBTQ-plus-groepe. Türk sê strafregtelike sanksies vir seksuele aktiwiteite waartoe mense van dieselfde geslag instem, skend belangrike internasionale regte en standaarde oor gelykheid en nie-diskriminasie.