Hoe moet mens maak met krokodil-aanvalle?

Die skaarste aan drinkbare water het vrese vir mens-wild-konflik in die Zambezi- en Kavango-streke verhoog, met spesifiek krokodille en seekoeie wat dikwels dorpenaars aanval wat water uit die twee standhoudende riviere trek. Inwoners word versoek om uiters waaksaam te wees wanneer hulle water gaan haal, visvang of in die Kavangorivier bad. Die 14-jarige Edward Mwambu Katjire van Shadjunu-dorpie is Sondag deur ‘n krokodil aangeval en doodgemaak terwyl hy in die rivier geswem het. Sy lyk is in twee geskeur gevind. Die 23-jarige Alberthina Vishoni Ndumbu is verlede week Donderdag by Mabushe-dorpie deur ‘n krokodil aangeval terwyl sy water en vis gaan haal het. Haar oorskot word steeds vermis. Kosmos 94.1 Nuus het met die uitvoerende direkteur van die omgewingsake-ministerie, Teofilus Nghitila, gepraat oor die toenames in krokodil- en ook seekoeiaanvalle. Nghitila sê daar is uitdagings aangesien hulle nie die mense van hul riviere kan skei nie.