Sri Lanka se T20-kaptein gestraf vir wangedrag teenoor skeidsregter

Krieket: Die nuwe Twintig20-kaptein van Sri Lanka, Wanindu Hasaranga, is gister ‘n verbod van twee wedstryde opgelê deur die Internasionale Krieketraad, vir wangedrag teenoor ‘n skeidsregter in verlede week se reeks-beëindigende nederlaag teen Afghanistan. Die 26-jarige het na die wedstryd met die skeidregter op die veld Lyndon Hannibal gebots omdat hy nie opgetree het teen ‘n hoë aflewering na Kamindu Mendis in die laaste boulbeurt nie, toe Sri Lanka 11 lopies van drie balle af nodig gehad het. Die IKR sê in ‘n verklaring die botsing het die gedragskode oortree oor “persoonlike mishandeling”. Hasaranga is ook met 50-persent van sy wedstrydfooi beboet.