Trump klop Haley gemaklik in Suid-Carolina

Donald Trump het sy naaste teenstander, Nikki Haley, maklik in Suid-Carolina se Republikeinse verkiesingstryd verslaan. Met sowat 83 persent van die stemme getel, het Trump gemaklik voorgeloop met 60 persent teenoor Haley se 39,4 persent. Dit het sy reeks oorwinnings verleng op sy weg na ‘n derde agtereenvolgende presidensiële benoeming en ‘n derde kragmeting met die Demokratiese president Joe Biden. Die voormalige president was die gunsteling om die Suidelike staat te wen, ondanks sy reeks kriminele aanklagte. Haley is ‘n boorling van Suid-Carolina wat twee termyne as goewerneur gedien het.