Toergids verdrink in Sandwich-hawe fratsongeluk

‘n Tragedie het hom Vrydagoggend naby Sandwich-hawe buite Walvisbaai afgespeel toe ‘n toergids in ‘n fratsongeluk oorlede is. Volgens die polisie het die gids alleen in sy Toyota GD6-bakkie bo-op die duine gery terwyl sy ses toeriste-kliënte geloop het. Die gids, ‘n 53-jarige Suid-Afrikaner met Namibiese burgerskap, het beheer oor die bakkie verloor, wat toe by die duine afgerol en in die see beland het. Hy het verdrink en sy liggaam is deur polisie- en ander duikers uit die bakkie gehaal, wat steeds in die see is. Sy naasbestaandes is nog nie ingelig nie aangesien hulle in Suid-Afrika opgespoor moet word.