Meer as 50 dood in stamgeweld in Papoea-Nieu-Guinee
53 mense is in ʼn lokval in Papoea-Nieu-Guinee se Hoogland-streek dood. Die polisie sê die mans is in die Enga-provinsie doodgeskiet nadat ʼn geskil tussen stamme handuit geruk het. Dis volgens berigte die ergste slagting in die land se onlangse geskiedenis. Stamgeweld het sedert die verkiesing in 2022 toegeneem. Sedert Augustus verlede jaar het konflik in die Hoogland-streek tot die dood van meer as 150 inwoners gelei.