Ysbeer wat op ysberg doeks, wen fotoprys

Die Britse amateur-fotograaf, Nima Sarikhani, is vanjaar aangewys as die People’s Choice-toekennings se Natuurlewe-fotograaf van die Jaar. Sy wenfoto met die titel, Ice Bed, is van ʼn slapende ysbeer wat opgekrul op ʼn ysberg lê. Dit is by Noorweë se Svalbard-eilandgroep geneem. Die foto is uit ʼn kortlys van 25 foto’s gekies wat uit ongeveer 50 000 inskrywings saamgestel is. Sarikhani sê hy hoop die foto inspireer hoop dat daar nog tyd is om die klimaatsprobleem wat mense veroorsaak het, op te los.