Koning Charles met kanker gediagnoseer

Buckingham-paleis het bevestig dat koning Charles die Derde met kanker gediagnoseer is en reeds met behandeling begin het. Die diagnose is onlangs gemaak terwyl die koning by ‘n kliniek in Londen behandeling ondergaan het vir ‘n nie-kwaadaardige vergrote prostaat. Die Paleis sê daaropvolgende toetse het ‘n ander vorm van kanker gediagnoseer. Die 75-jarige koning sal voorlopig al sy openbare optredes staak. Volgens die Paleis is die koning positief oor sy behandeling en hy sien daarna uit om sy openbare pligte so spoedig moontlik ten volle te hervat.