Twee SA soldate gewond tydens aanval in DR Kongo

Twee Suid-Afrikaanse soldate is in ‘n bestendige toestand nadat hulle gewond is toe hul helikopter in die Demokratiese Republiek van die Kongo aangeval is. Die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag sê die Oryx is getref op pad van Rwindi na Goma in die ooste. Die mediese praktisyn op die vlug is in die bors getref en die vlieënier het ‘n skietwond aan die vinger opgedoen. Die res van die mense aan boord was ongedeerd, en die helikopter het veilig in Goma geland. Die soldate is deel van die Verenigde Nasies se vredesending in die DRK.