Ses vegters sterf in aanval op Amerikaanse basis in Sirië

Minstens ses Amerikaans-gesteunde Koerdiese vegters is dood in ‘n hommeltuigaanval op ‘n Amerikaanse basis in Oos-Sirië. Die Islamitiese Weerstand in Irak, ‘n Iran-gesteunde militia wat Vrydag die teiken van Amerikaanse lugaanvalle was, sê hy het die aanval uitgevoer. Dit is die jongste aanduiding van hoe konflik oor die Midde-Ooste sypel sedert die begin van die oorlog in Gaza. Die Koerdies-geleide Siriese Demokratiese Magte, wat teen Islamitiese Staat jihadiste in Sirië veg, sê ses van hul vegters is dood in ‘n aanval op hul kommando-akademie by ‘n Amerikaanse basis by die al-Omar-olieveld in die ooste van Sirië. ‘n Verdere 18 vegters is gewond.