Skotland behaal 27-26 oorwinning teen Wallis

Skotland het ‘n einde gemaak aan sy 22 jaar van nederlae in Cardiff na hulle ‘n teen-aanslag van Wallis afgeweer het om ‘n Sesnasie-kragmeting met 27-26 in te palm. Dit was Skotland se eerste oorwinning in die Walliese hoofstad sedert 2002, na elf agtereenvolgende nederlae. Engeland is vroeër goed skrik gemaak in hulle wedstryd teen Italië, wat hulle uiteindelik met 27-24 gewen het. Italië het teen rustyd voorgeloop – wat hulle slegs die derde keer in 31 toetse tussen die twee spanne kon regkry – maar hulle voorsprong van 17-13 is deur Engeland uitgewis.