Kyk, wat’s daar in die sneeu? 

’n Wetenskaplike glo dat hy moontlik vier nuwe kolonies keiserpikkewyne in Antarktika ontdek het nadat hy hul ontlasting in satellietbeelde van die vasteland opgemerk het.

Satellietbeelde uit die buitenste ruimte is al herhaalde male gebruik as ‘n manier om pikkewynkolonies in kwesbare en afgeleë gebiede te identifiseer en op te spoor.

Peter Fretwell, wat by die British Antarctic Survey in Cambridge werk, het die beelde bestudeer wat uit die ruimte geneem is en kolle bruin vlekke teen die wit sneeu opgemerk – ‘n teken van die diere se teenwoordigheid. Daar word geglo dat die kolonies dalk al ‘n geruime tyd bestaan, volgens die joernaalinskrywing in Antarctic Science.

Die ontdekking is belangrik aangesien die spesie as “byna bedreig” op die IUCN Rooilys van Bedreigde Spesies geklassifiseer word as gevolg van klimaatsverandering en die impak daarvan op ysbedekking, waarop die pikkewyne leef en broei.

As dit bevestig word, sal die ontdekking die totale bekende keiserpikkewynkolonies op 66 te staan ​​bring, het Fretwell geskryf.