Geen mangaan-aflewering per spoor, want lyn steeds stukkend

Die opskorting van mangaan-produksie deur United Manganese of Kalahari weens ‘n uiters lae ertsprys sal geen impak op TransNamib hê nie, want daar word sedert April verlede jaar nie mangaan per spoor vervoer nie. TransNamib se woordvoerder, Abigail Raubenheimer, het aan Kosmos 94.1 Nuus bevestig dat die spoorlyn tussen Lüderitz en Aus, wat op 20 April verlede jaar beskadig is toe ‘n trein ontspoor het, nog nie genoegsaam herstel is nie. Uitvoere deur Namport by die Lüderitz-hawe, wat die erts namens talle Noord-Kaapse produsente uitvoer wat dit per spoor gelewer het, het rondom 720 000 metrieke ton in 2022 beloop.