Waterbesparings is nou kritiek

Die jongste damverslag van NamWater, gedateer vir Maandag, is beskikbaar. Die sentrale dele is in die moeilikheid met bronne op 22,6 persent met 776 000 kubieke meter wat net in die laaste week onttrek is. Von Bach het net 12,8 persent bronne en Swakoppoort is op 45,3 persent. Omatako is steeds leeg. In die Suide is Hardap nou op 18,1 persent en in die laaste sewe dae is 2,4 miljoen kubieke meter onttrek, die meerderheid vir die groenskema. Naute by Keetmanshoop het 44,4 persent en Oanob by Rehoboth 46,4 persent. Die reuse Neckartaldam lê braak met amper 86 persent water oftewel, 857 miljoen kubieke meter teenoor die skamele 34 miljoen kubieke meter water wat in die sentrale gebied oor is. In die Ooste is Otjivero op 5,3 persent en bronne vir die Ooste staan op ‘n skamele 3,9 persent.