Dakar: Ervaring bly die troefkaart op eerste dag

Motorfietsryer Ross Branch van Botswana het sy vierde Dakar-trajekoorwinning van sy loopbaan behaal. Branch was aan die voorpunt toe hy stop om Tosha Schareina by te staan nadat die Spanjaard verongeluk het. Alhoewel hy die wenstreep in die sestiende plek oorgesteek het, 16 minute en 10 sekondes agter Ricky Brabec, het hy 25 minute teruggekry en met 10 minute 54 sekondes gewen. Wat die motors aan betref het die Belg Guillaume de Mevius in sy Hilux Carlos Sainz in sy Audi met ‘n minuut 44 sekondes geklop. Suid-Afrikaners Geniel de Villiers, wat derde plek in sy klas behaal het, Saood Variawa wat tiende gekom het en Guy Botterill wat 16de gekom het, het reeds hulle staal gewys in die eerste 414 kilometer sneltrajek.