Goeie tafeldruiwe-oes word verwag

Vooruitskattings dui op nog ’n goeie tafeldruiwe-oes met ’n verwagte gemiddeld van 9,1 miljoen kartonne van 4,5 kg elk. Volgens die plaaslike landboutydskrif Agriforum, sal dit 500 000 kartonne meer wees as in die 2023-2024 seisoen, sou dit wel realiseer. Volgens die Namibiese Vereniging vir Tafeldruiweprodusente lyk die kwaliteit van druiwe uitstekend met goeie korrelgrootte. Tans is die internasionale vraag na tafeldruiwe hoër as produksie en terwyl Namibië bewys het dat hy van die beste gehalte kan lewer en ’n belangrike rol in die bedryf speel, sê die vereniging hy het beter ondersteuning van die regering nodig om nuwe markte vir verdere bedryfsgroei te verseker.