Shikongo vra dat hofproses oor noodlottige ongeluk sy gang moet gaan

Die noodlottige ongeluk waarin polisiehoof, luitenent-generaal Joseph Shikongo in Desember 2022 betrokke was en waarin drie mense dood is, is weer in die nuus. ‘n Betoging is in Desember op Ondangwa deur die NEFF-party en lede van die publiek gehou om hom uit sy amp te verwyder en aktivis Michael Amushelelo het ook met die oorledenes se familie regstreeks op sy sosiale media gepraat. Shikongo, wat op Oshakati gepraat het, sê die ongeluk was nie opsetlik nie. Hy sê daar is iemand wat ‘n voertuig bestuur met die doel om ‘n ongeluk te veroorsaak nie. Hy vra geduld dat die hofproses afgehandel word, te midde van aantygings dat hy weier om met die familielede van die oorledenes te ontmoet. Die dossier, met klagtes van strafbare manslag en roekelose en nalatige bestuur, was onlangs in die nuus en is teruggestuur na die polisie vir meer besonderhede. Tot op hede is geen formele klagte gebring nie.