Veelsydige Proteas vee die vloer met Indië

Krieket: Suid-Afrika het ʼn merkwaardige oorwinning van ʼn beurt en 32 lopies op SuperSport Park in Centurion behaal toe hulle Indië in 35 boulbeurte vir net 131 uitgehaal het. Nandre Burger het vier paaltjies vir 33 platgetrek met ʼn wedstrydsyfer van sewe vir 83, terwyl Kagiso Rabada in die eerste beurt vyf paaltjies vir 59 gekantel het vir ʼn wedstrydsyfer van sewe vir 91. Die kragmeting sal egter onthou word vir oudkaptein Dean Elgar se briljante beurt van 185 wat tot ʼn voorsprong van 163 lopies bygedra het. Die tweede toets begin op 3 Januarie op Nuweland in Kaapstad.