Skuld aan plaaslike owerhede hoop op

Dorpe regoor die land sukkel met hoë skuldvlakke en selfs die hoofstad het onlangs aangekondig dat hy in 2018, 191 miljoen Namibiese dollar in skuld afgeskryf het wat in vyf jaar geklim het tot 1,2 miljard dollar. Die gedwonge gratis voorsiening van water tydens die pandemie het ook bygedra tot die probleem. Nou word daar berig dat Rundu 350 miljoen dollar deur sy inwoners geskuld word terwyl die dorpsraad op sy beurt amper 230 miljoen dollar aan NamWater skuld. Inwoners van die dorpe ruk gereeld op en eis dienslewering wat onmoontlik is as inwoners nie hulle rekenings betaal nie. Intussen het NamPower reuse-uitdagings gehad en verliese aangeteken oor duur kragaankope as gevolg van die buurland se beurtkrag en NamWater, wat nooit ‘n reddingsboei kry nie, sukkel om sy infrastruktuur in stand te hou omdat hy nie betaal word nie.