Registreer, of verloor dalk jou nommer
Namibiërs staan nog steeds bont om hul SIM-kaarte te registreer voor die spertyd op 31 Desember, waarna dienste op ongeregistreerde kaarte opgeskort sal word. Die Kommunikasie-regulerende Owerheid van Namibië, oftewel Cran, sê ongeregistreerde nommers sal ná die opskorting van drie maande aan ander gebruikers gegee word. Stanley Kavetu, Cran se regsadviseur, sê tydens die opskorting van drie maande sal die gebruiker se nommer af wees, maar hulle kan dit steeds registreer en weer dienste bekom. Daarna verloor hulle egter hul nommer.