Dosyne Palestyne sterf in Israeliese lugaanvalle

Tientalle Palestyne is in Gaza dood in lugaanvalle vanoggend deur Israel, volgens Palestynse media, nadat Amerika Israel aangemoedig het om sy militêre veldtog af te skaal en Hamas-leiers noukeurig te teiken. Minstens 14 mense is dood in aanvalle wat twee huise in Jabalia getref het, en dosyne is dood in ‘n aanval op ‘n ander teiken in Jabalia, het die amptelike Wafa-nuusagentskap gesê. Daar word ook berig ‘n groot aantal burgerlikes is onder puin vasgekeer. Washington het Vrydag gesinspeel op onenigheid met Israel oor hoe vinnig om die oorlog af te skaal, met die nasionale veiligheidsadviseur, Jake Sullivan, wat gesê het die tydsberekening is die onderwerp van “intensiewe bespreking” tussen die bondgenote.