EU bereik ooreenkoms oor batebeslagleggings

Die Europese Kommissie sê diegene wat die Russiese president, Vladimir Putin help om sy oorlog aan die gang te hou, moet die prys daarvoor betaal. Die Europese Parlement en die Raad het ‘n politieke ooreenkoms bereik oor hersiene reëls rondom bateherwinning en beslaglegging. Die nuwe reëls sal die doeltreffende opsporing, bevriesing, bestuur en verwydering van voordele verseker wanneer sanksies oortree word. Die kommissie sê die implementering van beperkende maatreëls ná die Russiese inval in Oekraïne, toon hoe ingewikkeld die identifisering van bates van oligarge kan wees, wat dit in verskillende regsgebiede versteek deur middel van ingewikkelde wetlike en finansiële strukture.