WGO bekommerd oor hervatting van geweld in Gaza

Die Wêreldgesondheidsorganisasie sê hy is uiters bekommerd oor die hervatting van vyandelikhede, insluitend hewige bomaanvalle, in Gaza. Minstens ses mense is volgens berigte vanoggend dood en talle gewond in ‘n Israelse aanval op die Nuseirat-vlugtelingkamp. Luidens die Palestynse ministerie van Gesondheid is daar net op Sondag 349 mense dood en 750 gewond. Die WGO doen ‘n beroep op Israel om alle moontlike maatreëls in te stel om burgerlikes en openbare infrastruktuur te beskerm, insluitend hospitale, soos deur oorlogwetgewing bepaal.