Is Lichtenstrasser terug in die hof vandag? 

Voorleggings sal na verwagting vandag voor regter Christie Liebenberg in die vonnisopleggingsverhoor van die moordenaar Ernst Lichtenstrasser plaasvind. Dit is nie bekend wat sy toestand is na ‘n selfmoord poging rondom 22 November nie. Hy het ‘n oordosis Tramadol en Zolpidem by die Windhoek-korrektiewe fasiliteit geneem. Lichtenstrasser het tydens sy getuienis in die verhoor aan die hof gesê hy neem Tramadol vir ‘n besering wat hy tydens die bevrydingsoorlog aan sy skouer opgedoen het. Hy het ook gesê hy neem ander tablette om hom te help slaap. Dit is tans nie duidelik hoe hy daarin geslaag het om die medikasie in die hande te kry nie, maar daar word wyd bespiegel dat hy die tablette opgegaar het deur dit nie op die gespesifiseerde tye te drink nie. Hy is ook intussen vir verdere toetse gestuur. Lichtenstrasser het Ekhard Mueller en Heimo Hellwig, twee direkteure van die Namibiese Instituut vir Mynwese en Tegnologie in April 2019 doodgeskiet.