Nuwe neiging in bedrog in landbou ontdek

Die Namibiese Landbou-unie waarsku boere oor ‘n nuwe neiging in bedrog. Volgens die unie is hy ingelig oor ‘n diep kommerwekkende situasie: Boer A het ‘n faktuur aan Boer B gestuur vir ‘n item. Boer B het Boer A betaal volgens die faktuur en na ‘n paar dae, toe die fondse nog nie aangekom het nie, het albei partye die saak begin ondersoek. Met hulp van hul onderskeie finansiële instellings het dit duidelik geword dat die faktuur van Boer A onderskep is en die bankbesonderhede is verander. Boer B het niksvermoedend die bedrag aan die bankbesonderhede wat op die faktuur genoem word, betaal, sonder om te besef dat die fondse na ‘n derde party gestuur sou word. Die unie sê dit is raadsaam om enige nuwe rekeningbesonderhede met die diensverskaffer te bevestig voordat betaling gedoen word of oorweeg dit om nie bankbesonderhede op ’n faktuur te plaas nie.