Regeringsdoelwit-viskwotas onder die loep
Die voorsitter van die Confederation of Namibian Fishing Association, Matti Amukwa, kritiseer die regering oor die toekenning van regeringsdoelwit-kwotas aan entiteite wat nie regtehouers is nie. Hy het verwys na die opveil van sulke maasbanker-kwotas aan die regering van die Demokratiese Republiek van die Kongo. Amukwa het by die jaarlikse visserye-industrie byeenkoms in Walvisbaai gesê dit is nie nodig om strydig met die wet ander kwotahouers vir regeringsdoelwitte te skep nie, aangesien hulle deur bestaande regtehouers verwesenlik kan word. Amukwa sê as die regering nuwe regte en kwotahouers buite die voorgeskrewe wet wil skep, die wet deur die parlement hersien moet word, met volle deelname van belanghebbendes.