Nog onwettige wapens gevind 

Daar is kommer oor die toenemende voorvalle van wapendiefstal en die onwettige besit van wapens in die land. Die polisie vind op ‘n weeklikse basis wapens waarvan die reeksnommers verwyder is wat in misdade gebruik word. En Woensdag was geen uitsondering nie. Volgens die mag is ‘n verdagte by Otjodeka in die Kunene-streek met ‘n ongelisensieerde .303 jaggeweer gevind terwyl nog ‘n man ook in die streek, maar op Okanguati, met ‘n 7.65 pistool en ammunisie gevind is. Die wapen is ook ongelisensieerd. Beide verdagtes sal vandag in die hof op Opuwo verskyn. Intussen is twee mans, 57 en 43, op Rehoboth gearresteer op klagtes van dwarsboming van die gereg. Die mag sê hulle het inligting oor ontsnapte gevangenes van die polisie weerhou en die gevangenes met kos en water voorsien terwyl hulle op vlug was. Die gevangenes was deel van die ses wat oor die naweek uit die dorp se aanhoudingselle by die polisiestasie ontsnap het.