Aussenkehr se riethuise binnekort geskiedenis

Werkers van die Namibia Grape Company, wat reeds dekades lank in substandaard riethuise op die druiweplaas in Aussenkehr woon, sal binnekort na nuwe erwe verskuif word, waar hulle hul eie baksteen- of sinkhuise kan bou. Die behuising van die sowat 20 000 werkers haal gereeld die nuus, veral in die winter. Daar is geen elektrisiteit of drinkbare water nie en ook geen sanitasie nie. Daar word berig dat hulle beloof is dat Namwater hulle van skoon water deur sonkrag-waterpompe sal voorsien sodra hulle by die nuwe erwe gevestig is. Vir dié diens sal daar van hulle verwag word om slegs ‘n maandelikse fooi van 51 Namibiese dollar te betaal.