Oscar dalk tuis vir Kersfees

Daar is bespiegeling dat Oscar Pistorius Kersfees by die huis sal wees. Die paroolraad van Korrektiewe Dienste beplan glo voor die einde van vandeesmaand ʼn paroolraadsitting vir die voormalige Olimpiese kampioen. Dit volg nadat die Konstitusionele Hof onlangs beslis het hy kom vir parool in aanmerking nadat hy meer as die helfte van sy vonnis uitgedien het vir die moord in Februarie 2013 op sy vriendin, Reeva Steenkamp. Die departement het bevestig hulle het ʼn bevel hieroor van die hof ontvang. Pistorius se prokureur, Conrad Dormehl, het bevestig hulle is van die moontlike parool in kennis gestel.