Rentekoerse sal onveranderd bly terwyl vraag na krediet gedemp bly

Die verdiepende afname in kredietverlening in die private sektor in September is volgens Simonis Storm kommerwekkend. Die syfers is Woensdag bekend gemaak. Die firma sê dit beteken maatskappye en huishoudings prioritiseer die vereffening van bestaande skuld oor nuwe skuld vir beleggings of verbruik. Faktore soos die hoë rentekoers, stygende inflasie en ekonomiese onsekerheid dra waarskynlik by aan hierdie negatiewe tendens. Die repokoers is plaaslik onveranderd gehou en so ook in die VSA met die Federale Reserwebank wat sy aankondiging Woensdag gemaak het. Simonis Storm sê hy voorsien dat die Suid-Afrikaanse Reserwebank sy koers onveranderd sal hou op 23 November en dan so ook die Bank van Namibië met sy Desember aankondiging. Rentekoerse sal eers volgens die firma in die derde kwartaal van volgende jaar begin daal.