Nampol kondig feestyd-operasie aan
Alle polisielede gaan aan vanjaar se spesiale feestyd-misdaadvoorkoming- en padveiligheid-operasies deelneem, terwyl net ‘n paar lede in kantore gaan wees om administratiewe werk te doen. Dit is volgens die hoof van Nampol, luitenant-generaal Joseph Shikongo, wat al 14 streeksbevelvoerders by ‘n voorbereidende vergadering in Windhoek betrek het. Die veldtog sal landswyd duur vanaf 17 November tot 16 Januarie. Die operasies sal geïdentifiseerde brandpuntgebiede teiken, polisiesigbaarheid verhoog, reaksietyd verbeter en alkohol- en dwelmmisbruik teiken. Lede sal toeslaan op spoedvrate, dronk bestuurders en nie-padwaardige voertuie. Die aantal vaste en mobiele padblokkades sal ook vermeerder word.