Skors Ndopu-Lubinda, sê Zambezi-streeksraad
Die Zambezi-streeksraad het volgens plaaslike berigte op ‘n spesiale vergadering voorgestel dat die hoofstreeksbeampte, Regina Ndopu-Lubinda, geskors word. Dit kom nadat sy, drie ander direkteure in die raad en nog twee amptenare weke gelede aangekla is van bedrog van sowat 4,7 miljoen Namibiese dollar. Die voorsitter van die bestuurskomitee, Warden Simushi, is vroeër gekritiseer omdat hy lank gevat het om die kwessie aan te spreek en daar was beweringe dat hy gekonflikteer is in die saak. Die ses aangeklaagdes is op borgtog van 50 000 Namibiese dollar elk vrygelaat en is geskeduleer om weer op 7 Desember in die hof te verskyn.