Ooreenkoms vir plaaslike piesangbedryf

Die Akkerbouraad en AvaGro het ‘n ooreenkoms onderteken om die land se piesangbedryf te ontwikkel. Verlede jaar alleen het Namibië altesaam 6 394 ton piesangs, ter waarde van 57 miljoen Namibiese dollar, hoofsaaklik uit Suid-Afrika ingevoer. Piesangs bly die tweede mees verbruikte vrugte in Namibië ná appels en die land voer 100 persent van al sy piesangbehoeftes in. Kleinskaalse produksie vind plaas in die Zambezi- en die twee Kavango-streke, asook in die noord-sentrale, Karst- en sentrale produksiesones van die land, maar dit is hoofsaaklik vir eie gebruik.