Boer, of verloor toegekende grond

Die landbou-ministerie se direkteur van grondhervorming, Petrus Nangolo, maan boere op hervestigde grond om aktief te boer om te verhoed dat die grond teruggeneem word. Hy sê sommige boere gebruik nie die grond wat deur die ministerie aan hulle toegeken is vir boerdery nie, en sê hulle sal ‘n regverdige kans gegun word om produktief te wees. As hulle nie daarin slaag nie, sal die ministerie die grond onttrek en dit aan ander Namibiërs gee wat bereid is om hard te werk. Nangolo sê die primêre doel is om te verseker dat hierdie boere hul eie voedsel produseer, bydra tot die land se bruto binnelandse produk en werk skep, wat slegs gedoen kan word as hulle produktief is. Hy het gepraat by ‘n vergadering by die Okashana landelike ontwikkelingsentrum in die Oshikoto-streek.