Brasilië ontruim sy landsburgers uit Israel

Die Brasiliaanse regering het bevestig hy sal vyf bykomende vliegtuie ontplooi om meer van sy burgers uit Israel te ontruim. Die land se eerste reddingsending het Dinsdag plaasgevind toe 211 passasiers ontruim is. ‘n Bevelvoerder van die Lugmag, Marcelo Damasceno, sê meer as 900 Brasiliane sal teen Saterdag uit die land wees. Hy sê lugmagvliegtuie is hoofsaaklik daar vir burgers wat in Israel en die Palestynse gebiede woon en nie kaartjies vir kommersiële lugrederye het nie. Meer as 2 200 Brasiliane het die ambassade gekontak om te vertrek ná gewelddadige botsings Saterdag uitgebreek het.