Kommer oor die derduisende wat in Mexiko verdwyn

Die VN-komitee oor gedwonge verdwynings spreek sy kommer uit oor wat hy noem ‘n onvoldoende ondersoek na die “kommerwekkende” aantal verdwynings in Mexiko, die gevolglike lae skuldigbevindings en “byna absolute straffeloosheid”. In Mexiko is 111 896 mense tans as vermis in die departement van binnelandse sake se amptelike databasis geregistreer. Dit sluit nie die baie meer mense in wat vermis geraak het en later dood gevind is nie. Die meeste het verdwyn sedert 2006, toe die destydse president Felipe Calderon ‘n “oorlog teen dwelms” verklaar het, wat die gewapende magte gemobiliseer het om die toenemend kragtiger kartelle te beveg en ‘n vlaag van geweld ontketen het wat steeds die land skud.