Vakbond kap ministerie oor New Era redakteur se skorsing

Die Namibiese mediawerkers-vakbond, Nampu, veroordeel die skorsing van Jonathan Beukes, die besturende redakteur van New Era koerant, ten sterkste. Beukes is volgens die vakbond geskors sonder dat enige klagte teen hom gelê is, na sy onlangse hoofartikel wat krities was oor die deursigtigheid van die regbank. Die vakbond sê New Era word deur belastingbetalers se geld befonds, en die publiek het die volste reg om ingelig te word oor die funksionering van alle instellings. Die voorval laat ernstige vrae ontstaan oor persvryheid, joernalistieke onafhanklikheid en die beskerming van joernaliste se regte in Namibië. Die vakbond doen onder meer ‘n beroep op die kommunikasie-ministerie om Beukes onmiddellik weer in diens te neem en ‘n volledige en deursigtige weergawe van die redes agter sy skorsing te verskaf.