Harvey Boulter se saak tot 20 September uitgestel
Die Britse moordbeskuldigde en sakeman, Harvey Boulter, het vanoggend vlugtig in die Kamanjab-landdroshof verskyn. Landdros Eric Kesslau het gelas dat hy in aanhouding bly tot sy volgende verskyning op 20 September. Boulter word daarvan beskuldig dat hy sy plaasbestuurder, Gerhard van Wyk, op 27 Februarie op sy plaas Kaross in die Kamanjab-distrik doodgeskiet het. Boulter was sedert sy vorige hofverskyning in Mei eers in kwarantyn in die Safari Hotel in Windhoek nadat hy Covid-19 opgedoen het, en is daarna vir mediese behandeling in die Paramount-gesondheidsentrum in Eros oorgeplaas.