De Klerk se uitleweringsverhoor duur voort in die Paarl

Die Namibiese prokureur wat met die Fishrot-skandaal verbind word, Marén de Klerk, se uitleweringsverhoor kom na verwagting weer vandag voor in die landdroshof in die Paarl. Hy het in Junie vanjaar 50 000 Namibiese dollar se borg gekry. Die Namibiese minister van justisie, Yvonne Dausab het in Mei verlede jaar sy uitlewering amptelik versoek na hy in 2020 Namibië gevlug het. De Klerk word deur die Namibiese regering gesoek vir korrupsie, bedrog, diefstal en geldwassery. In 2022 het die Paarl-landdroshof ’n lasbrief vir inhegtenisneming vir De Klerk uitgereik, wat gevolg is deur die publikasie van ’n rooi kennisgewing deur Interpol. De Klerk het tydens sy borgtogverhoor in die Paarl getuig dat hy vir sy lewe vrees en nie ‘n regverdige verhoor sal kry as hy aan Namibië uitgelewer word nie. Die formele verhoor van die tien Fishrot-beskuldigdes sal na verwagting op 13 Oktober in die hoofstad begin.