Nampol hou skelms dop tydens sensus

NamPol se adjunk-inspekteur-generaal vir operasies, generaal-majoor Elias Mutota, sê polisiesigbaarheid sal die fokus wees tydens die Namibië 2023 bevolking- en behuisingsensus-periode. Mutota het ‘n beroep op die publiek gedoen om sensus-werkers by te staan, terwyl misdadigers gewaarsku word om versigtig te wees vir wetstoepassing. Mutota het Dinsdag tydens ‘n pers-inligtingsessie in Windhoek gesê sekere misdadigers sal waarskynlik sensus-tellers of polisiebeamptes naboots, en die publiek moet waaksaam wees. Die polisie, saam met belanghebbendes soos die Windhoek Stadspolisie en die Nasionale Statistiekagentskap, sal gedurende die sensustydperk ’n omvattende polisiëringsoperasie landwyd uitvoer. Ongeveer 13 000 sensus-werkers sal oor die hele land werksaam wees.