Meeste sterftes in Libië-vloede was onnodig, meen wêreldliggaam

Die Wêreld Meteorologiese Organisasie sê die meeste sterftes in die verwoestende vloede in Libië kon vermy gewees het. Die dodetal in die omgewing van die stad Derna aan die Middellandse See is reeds meer as 5 000, hoewel owerhede glo dit kan tot ongeveer 20 000 styg. Die organisasie sê Libië moes ontruimings-waarskuwings uitgereik het voor die storm Daniel die streek bereik het, maar dis nooit gedoen nie. BBC News berig die land het twee teenstrydende regerings wat uiteenlopende voorsorgmaatreëls aangekondig het. Dit het ‘n gekoördineerde reaksie bemoeilik.